Tuesday, September 16, 2008

Regte benodighede vir 'n 24 uur wedren


Deesdae word 24 uur lange bergfiets wedrenne en dae lange avontuur wedrenne baie meer gewild onder Suid-Afrikaners. Om hierdie tipe wedrenne goed te geniet, is dit noodsaaklik om die regte toerusting saam met jou te vat. Hier volg 'n paar goedjies wat ek gevind het noodsaaklik is om 'n 24 uur wedren ten volle te kan geniet.


1. Tent

Dit is seker een van die eerste goed wat ek inpak as ek 'n 24 uur wedren gaan doen. As jy 'n lekker groot tent het kan jy 'n tafeltjie en stoeltjies in die binnekant opslaan waar jy lekker kan eet en ietsie kry om te drink, of selfs net die volgende ryer se strategie beplan. Dan behoort daar ook nog plek te wees waar jy lekker bietjie kan horisontaal verkeer en die bene bietjie laat rus. 'n Mens soek gewoonlik 'n lekker warm , gemaklikke rusplek om jou tyd deur te bring terwyl dit jou spanmaat se beurt is om om die baan te jaag. Hier kan ek aanbeveel dat jy sommer 'n lekker warm slaapsak inpak wat jou spiere gaan warm hou. 'n Mens weet nooit presies hoe die weer gaan uitdraai nie, so as dit begin reen of 'n ysige windjie begin waai, dan sal jy bly wees jy het die tent eerste ingepak.


2. Sonbrille

Meeste fietsryers het sonbrille wat hulle oe beskerm teen onwenslike ellemente wat daar in beland. Op 'n 24 uur lange wedren, is dit dalk 'n goeie idee om sonbrille te kry waarvan jy die lense kan vervang en uithaal. Gewoonlik sal so 'n wedren 12uur die middag begin en dan weer 12uur die volgende middag klaar maak. Jou gewone sonbril sal goed genoeg wees deur die dag, maar gedurende die nag sal jy nogsteeds jou oe moet beskerm. Probeer 'n sonbril kry met 'n geel lens of een wat heeltemal deurskynend is.


3. Gereedskap

In 'n langer wedren is dit ongelooflik belangrik dat jy enige probleem wat dalk mag opduik gedurende die 24 uur, maklik en vinnig sal kan regmaak en uitsorteer. Probeer so ver moontlik gereedskap in pak wat jy moontlik mag nodig kry. Dit is 'n goeie idee om ook selfs ekstra buitebande, binnebande, ketting ens ook in te pak, dit is nogals maklik om die kant van jou buiteband oop te sny as jy nie meer lekker kan sien in die aand nie.


4. Fiets

Sorg voor die wedren dat jou fiets gediens is en in 'n goeie werkende toestand is. Laat 'n fietswerktuigkundige jou fiets noukeurig deurgaan en seker maak dat jou ysterperd jou nie in die steek sal laat gedurende jou wedren nie. 'n Goeie tyd om dit te laat doen is so 'n week voor die wedren.


5. Ligte

Dit is iets waarsonder jy glad nie die wedren sal kan ry nie. Onthou, in die bos is daar nie straatligte wat vir jou die pad sal wys nie, jy moet dit self ophelder. Hier gaan ek aanbeveel dat jy vir 'n LED lig gaan. LED ligte vat baie minder krag as jou gewone gloeilamp, so jou battery gaan langer hou. Sorg ook dat jy genoeg batterye saam vat om jou die hele aand lank te hou asook een wat kan dien as "backup" as een van die ander ligte dalk sou breek.


6. Geniet dit

Die laaste handige wenk wat ek kan gee is om die wedren te geniet. As jy dit nie gaan geniet nie, wat is die hele punt dat jy dit dan gaan doen? -Alles Fiets-

No comments: