Monday, October 20, 2008

Lange maak dit 5 uit 6

Malcolm Lange het Sondag vir die vyfde keer in ses wedrenne eerste oor die wedren gery toe hy die Amashova fietstoer tussen Pietermaritzburg en Durban gewen het.

Die breek wat die wedren gewen het, het gebeur met nog 'n volle 50km oor voor die einde. 'n Groepie van 12 ryers het weg gebreek op 'n 2km lange bult. Met die idee om weg te bly tot by die einde het die ryers die breek hard gedryf.

Met slegs sewe ryers oor teen die tyd wat hulle Botha's Hill gekry het, was dit 'n uitgemaakte saak dat die groepie gaan wegbly tot die einde. Met MTN en die House of Paint span wat elkeen twee ryers in die groepie gehad het, het hulle hard saam gewerk om die voorsprong te behou.

By die eindstreep was dit Malcolm Lange (MTN) wat sy eindpoging met perfekte tydsberekening afgerond het om eerste oor die wenstreep te ry in 'n tyd van 2:25:33 gevolg deur Arran Brown (House of Paint) tweede en die 19 jarige Reinhard Janse van Rensburg (Toyota/Supercycling) in derde plek.

In die vroue wedren het Cashandra Slingerland (MTN) gesorg vir 'n verrassing toe sy slegs 20 km in die wedren weggebreek het en op haar eie 'n tydtoets gery het tot in Durban om die wedren gemaklik te wen in 'n tyd van 2:53:14. Isabel Moolman (Cycle Lab Supercycling) wat in die tweede plek ingekom het, was 'n volle vier minute na Slingerland. Die onderste trappie van die podium was gevul deur Carla van der Merwe (Proline).

In die tandem afdeling het Andrew Mclean en Grame Cronje die tyd wat aan hulle gestel is van 2:20:00 net net geklop toe hulle die wedren voltooi het in 'n tyd van 2:17:56 wat verseker het dat hulle die boerpot van R100 000 wen vir al die instansies vir minderbevooregdes wat die geld nodig het wat deel het aan die wedren.

-Alles Fiets-

No comments: