Showing posts with label Doen dit so. Show all posts
Showing posts with label Doen dit so. Show all posts

Tuesday, September 16, 2008

Regte benodighede vir 'n 24 uur wedren


Deesdae word 24 uur lange bergfiets wedrenne en dae lange avontuur wedrenne baie meer gewild onder Suid-Afrikaners. Om hierdie tipe wedrenne goed te geniet, is dit noodsaaklik om die regte toerusting saam met jou te vat. Hier volg 'n paar goedjies wat ek gevind het noodsaaklik is om 'n 24 uur wedren ten volle te kan geniet.


1. Tent

Dit is seker een van die eerste goed wat ek inpak as ek 'n 24 uur wedren gaan doen. As jy 'n lekker groot tent het kan jy 'n tafeltjie en stoeltjies in die binnekant opslaan waar jy lekker kan eet en ietsie kry om te drink, of selfs net die volgende ryer se strategie beplan. Dan behoort daar ook nog plek te wees waar jy lekker bietjie kan horisontaal verkeer en die bene bietjie laat rus. 'n Mens soek gewoonlik 'n lekker warm , gemaklikke rusplek om jou tyd deur te bring terwyl dit jou spanmaat se beurt is om om die baan te jaag. Hier kan ek aanbeveel dat jy sommer 'n lekker warm slaapsak inpak wat jou spiere gaan warm hou. 'n Mens weet nooit presies hoe die weer gaan uitdraai nie, so as dit begin reen of 'n ysige windjie begin waai, dan sal jy bly wees jy het die tent eerste ingepak.


2. Sonbrille

Meeste fietsryers het sonbrille wat hulle oe beskerm teen onwenslike ellemente wat daar in beland. Op 'n 24 uur lange wedren, is dit dalk 'n goeie idee om sonbrille te kry waarvan jy die lense kan vervang en uithaal. Gewoonlik sal so 'n wedren 12uur die middag begin en dan weer 12uur die volgende middag klaar maak. Jou gewone sonbril sal goed genoeg wees deur die dag, maar gedurende die nag sal jy nogsteeds jou oe moet beskerm. Probeer 'n sonbril kry met 'n geel lens of een wat heeltemal deurskynend is.


3. Gereedskap

In 'n langer wedren is dit ongelooflik belangrik dat jy enige probleem wat dalk mag opduik gedurende die 24 uur, maklik en vinnig sal kan regmaak en uitsorteer. Probeer so ver moontlik gereedskap in pak wat jy moontlik mag nodig kry. Dit is 'n goeie idee om ook selfs ekstra buitebande, binnebande, ketting ens ook in te pak, dit is nogals maklik om die kant van jou buiteband oop te sny as jy nie meer lekker kan sien in die aand nie.


4. Fiets

Sorg voor die wedren dat jou fiets gediens is en in 'n goeie werkende toestand is. Laat 'n fietswerktuigkundige jou fiets noukeurig deurgaan en seker maak dat jou ysterperd jou nie in die steek sal laat gedurende jou wedren nie. 'n Goeie tyd om dit te laat doen is so 'n week voor die wedren.


5. Ligte

Dit is iets waarsonder jy glad nie die wedren sal kan ry nie. Onthou, in die bos is daar nie straatligte wat vir jou die pad sal wys nie, jy moet dit self ophelder. Hier gaan ek aanbeveel dat jy vir 'n LED lig gaan. LED ligte vat baie minder krag as jou gewone gloeilamp, so jou battery gaan langer hou. Sorg ook dat jy genoeg batterye saam vat om jou die hele aand lank te hou asook een wat kan dien as "backup" as een van die ander ligte dalk sou breek.


6. Geniet dit

Die laaste handige wenk wat ek kan gee is om die wedren te geniet. As jy dit nie gaan geniet nie, wat is die hele punt dat jy dit dan gaan doen? -Alles Fiets-

Friday, September 12, 2008

Onderhou jou Pedale

As jy op ‘n pedaal afgekom het waarvan jy hou en wat vir jou werk, is daar geen rede om van pedale te verander nie.  Meeste pedale vandag is baie spesifiek in wat hulle vir jou kan bide en meeste mense hou by die pedaal wat hy al vir jare gebruik en vertrou.  By die meeste fietswinkels vandag as jy ‘n nuwe fiets gaan koop, kry jy nie eers pedale saam met jou fiets nie.  Dit is omdat daar gevind is dat meeste mense weet presies watter pedale hulle op hulle fiets wil hê of selfs net die ou pedale oorsit van die ou fiets na die nuwe fiets toe.  Deesdae hou pedale ongelooflik lank as jy mooi na hulle kyk en hulle gereeld skoonmaak.

 

Sorg dat jou fiets se pedale op ‘n gereelde basis skoon gemaak word.  Vuil trappe en vuil “cleats” veroorsaak dat jou trappe vinniger uitgewerk raak as wat nodig is.  Gebruik ‘n skoon lappie so een keer ‘n week om jou pedale goed skoon te vee en probeer om van die meeste gemors wat aan jou pedale vassit, ontslae te raak.  As jy nie jou pedale skoon hou nie, gaan daar met tyd gemors hul pad binne in jou pedale in werk en begin om jou “bearings” op te eet.  Aan die anderkant wil jy ook nie jou pedale super skoon hou nie, want jy gaan vuilgoed in jou pedale in forseer. 

 

Gaan jou “cleats” gereeld na.  Sonder dat jy dit agter kom loop ‘n mens nogals baie op jou “cleats” en dus hou hulle nie heeltemal so lank soos wat verwag word nie (veral as hulle van plastiek gemaak is).  Dink net bietjie, elke keer as jy by ‘n verkeerslig stop en jou voet uithaal en hom op die teer neersit, staan jy op jou “cleats” en nie op die sool van jou skoen nie.  Met bergfiets as jy moet stoot teen ‘n klipperige randjie uit, loop jy meer en deels op los klippe wat daartoe bydrae dat jy jou “cleats” se leeftyd verkort.  Gaan jou “cleats” gereeld na om te sien of hulle nog in ‘n goeie kondisie is.  Sodra jy jou trappe moet stywer stel om te keer dat jou voet nie te maklik uitkom nie, is dit tyd om jou “cleats” te vervang. 

 

‘n Goeie idée is dalk elke keer as jy jou ketting skoon maak en olie gee (wat toevallig tussen elke rit behoort te wees)  dat jy jou pedale vinnig in die ronte draai om te sien of hulle nog lekker maklik kan draai.  Terwyl jy jou fiets vashou, beweeg jou trappe sywaarts en kyk of daar beweging of speling is.  As daar wel is, is dit tyd dat jy jou pedale moet vat vir ‘n diens of dalk is dit tyd om op te gradeer na daardie nuwe stel pedale wat jy al vir drie maande in die oog het.              –Alles Fiets-

Thursday, September 11, 2008

Gereedskap wat jy mag benodig by ‘n wedren

Een van die goue reëls in fietsry is dat jy nie die aand voor ‘n wedren aan jou fiets moet werk nie. Dit veroorsaak net onnodige stres as daar iets fout is en jy sukkel om dit reg te maak. Probeer eerder dat jou fiets in ‘n goeie werkende toestand is ‘n week voor jou wedren. Wat ek ook al agter gekom het, is dat as jy nogals ver moet ry vir ‘n wedren, is die kanse goed dat daar iets met jou fiets kan gebeur en skeef loop. As jy jou fiets aflaai by die wedren en vind dat alles nie na wense is op jou ysterperd nie, moet jy sorg dat jy die regte gereedskap byderhand het om die nodige reperasies te maak. As jy plek het in jou voertuig, probeer die meeste van die volgende inpak. Dit mag dalk net die verskil maak of jy jou wedren gaan geniet en of jy hom eerder sou wou vergeet.

Vloer pomp.
Sorg dat jy altyd jou vloer pomp inpak na ‘n wedren toe. Maak nie saak of dit ‘n bergfietswedren, ‘n padfietswedren of sommer ‘n klein pretrit by jou kerk is nie. Al dink jy dat dit nie werklik nodig gaan wees om jou wiel op te pomp voor die wedren nie, omdat jou bande hard genoeg is, kan jy heel moontlik ‘n papwiel kry terwyl jy opwarm voor die tyd en dan wil jy nie sukkel met ‘n klein fietspompie om jou wiel op gepomp te kry voor die wedren begin nie.

Skoon maak middels.
Dit is ‘n baie goeie idee om die regte skoon maak middels in te pak en byderhand te hê. Jy wil nie die volgende oggend by die begin punt van die wedren aankom met handvatsels wat pikswart is in plaas van wit nie. Sorg dat jy iets inpak wat maklik en vinnig olie kan verwyder. ‘n Paar handskoene kan ook goed werk om te sorg dat jy nie jou fiets vuil vat nie. Geen gereedskapskassie mag sonder ‘n paar skoon lappe wees nie. Hulle is handig vir meer as een taak.

Alles regmaak sakkie.
In ‘n alles regmaak sakkie sit ‘n mens gewoonlik enige iets wat jy nie normaalweg sal aan dink om te gebruik nie, maar wat wel jou fiets kan regmaak sodat jy die wedren kan begin. In jou sakkie sal jy bv. gereedskap sit wat jy nie met jou ander gereedskap sal kan regmaak nie. Jy sal handige gereedskap daar insit soos “cable ties”, kleefband en ‘n goeie sterk gom. Met hierdie paar goedjies behoort jy meeste probleme te kan regmaak om ‘n wedren te voltooi.

Fiets staander
In ‘n kort wedren is dit nie noodwendig nodig om ‘n fiets staander saam te vat nie, maar in langer wedrenne en wedrenne wat 24 ure lank is, is dit noodsaaklik. In langer wedrenne wil jy nie sukkel om jou fiets reg te maak tussen skofte deur jou rug in ongemak te plaas nie. Sorg dat jy ‘n stewige staander kry wat nie jou fiets laat rondbeweeg terwyl jy aan hom wil werk nie.

Basiese gereedskap
Maak seker dat jou gereedskap kissie goeie gereedskap bevat. Jy wil nie sukkel met gereedskap wat nie bedoel is vir die werk wat jy hom voor gebruik nie. Probeer al die probleme wat moontlik mag gebeur uitskakel deur die regte gereedskap by jou te hê soos bv. ‘n kettingbreker, goeie stel allansleutels, “tyre levers”, spaar binneband, spaar buiteband vir langer wedrenne, ketting olie en ekstra speke. Binne ‘n wedren moet jy seker maak dat jy net die nodigste gereedskap saam met jou vat om by die einde te kan kom as daar iets verkeerd loop. Moenie te veel gereedskap saam met jou vat nie, want dan gaan jy jou dood dra aan alles en moontlik gaan daar nie eers iets met jou fiets gebeur as hy in ‘n goeie kondisie is nie.

Volg hierdie paar stappe en jy behoort altyd gereed te wees aan die begin van ‘n wedren. –Alles Fiets-

Wednesday, September 10, 2008

Byt vas en word nooit afgegooi uit ‘n bondel nie.

Meeste van ons word op een of ander stadium afgegooi van ‘n bondel af en net om by te bly by die bondel raak ‘n baie moeilike, hardwerkende proses. As jy slim ry kan jy maklik saam met groepe ry wat sterker as jy is, en behoort jy maklik by die bondel te bly en heel moontlik kort voor lank die pas aan te gee aan die voorpunt van die sterker bondels. Deur hierdie volgende paar wenke te volg behoort jy volgende keer nie so maklik afgegooi te word uit ‘n bondel uit nie.

Werk in klein groepies. Waarskynlik waar jy die maklikste afgegooi gaan word van ‘n bondel af, is net nadat dit jou beurt was om voor te werk. Wat gewoonlik gebeur is dat jou bene bietjie moeg is na die harde werk voor aan die bondel en dan sodra jou beurt klaar is en jy agter toe beweeg om bietjie te gaan rus kan jy nie meer by die groep bly as hulle die pas so bietjie lig nie, en dus val jy agter die bondel af. Om dit te voorkom moet jy bietjie slimmer voor aan die bondel werk om sodoende jou bene te spaar. As dit jou beurt is om voor te werk, gee eerder vier harde trappe en dan weer twee ligte trappe terwyl jy ‘n konstante spoed hou. ‘n Goeie wenk is ook dat as julle teen ‘n bult uitry, probeer eerder voor werk totdat julle bo oor die bult gaan as om in die middel van die bult op te hou werk. Laat die bondel eerder jou jou pas volg as wat jy gaan sukkel om by te bly by ‘n pas wat vir jou ongemaklik is.

Sukkel jy op Klimme? As klimme nie jou sterkpunt is nie en jy word geduurig afgegooi op bulte, is jou eerste stap om jou energie nie te mors nie en dit te probeer spaar waar ook al moontlik. Probeer om die klimme wat kom aan die voorpunt van die groep te begin en ry ‘n konstante pas wat vir jou gemaklik is. As jou tydsberekening goed is, behoort jy stadig na agter van die bondel te beweeg en naby aan die agterkant van die bondel bo oor die klim te gaan. Sodoende sal die bondel jou nie volgende keer so maklik afgooi op ‘n bult nie.

Op aanvalle. As jy sukkel om by te bly sodra die bondel ‘n paar aanvalle loots, maar jy kan ‘n redelike konstante hoe pas hou moet jy net slimmer ry. Probeer eerder die pas lig sodat te hoog is dat die ander ryers in die bondel afgesit gaan word om aanvalle te loots en eerder gaan probeer om by jou te bly.

Groot, vinnige bondels. Die spoed verander gedurig in groot, vinnige bondels wat dit dikwels moeilik maak om vas te byt aan die agterkant van die groot bondels. In hierdie tipe groepe waar die spoed die heeltyd verander gebeur daar gereeld na agter ‘n sweepslag effek. Die beste plek om te wees is in die voorste derde van so ‘n bondel. Dit verg nogals groot moeite om daar te bly, want hierdie groot bondels is gewoonlik ‘n groot klomp lywe wat stoei om op die selfde plek in die bondel te ry. Dit is nogmaals ‘n baie beter plek om te wees as agter in die bondel waar jy die heeltyd gesweepslag gaan word.

In ‘n bondel wat te vinnig ry. Baie mense wil graag by die bondel bly saam met wie hy oor die eerste bult gegaan het, maar die pas van die bondel is dood eenvoudig te vinnig vir hom en dus word hy maklik afgegooi aan die agterkant van die bondel. Die beste manier om te vermy dat jy afgegooi word van die agterkant van ‘n bondel wat te vinnig vir jou ry is om te leer hoe om goed agter ander fietsryers te ry sodat hulle die wind namens jou breek en dit makliker maak om by te bly in die bondel. Dit hang af van watter kant af die wind waai wat gaan bepaal in watter posisie jy agter die ander fietsryer gaan ry. Partykeer is die beste plek om te wees nie noodwendig reg agter hom nie, maar wel skuins agter hom. Jy sal sommer vinnig agter kom waar die beste plek vir jou gaan wees om te ry. –Alles Fiets-

Monday, September 8, 2008

Gebruik jou Remme Slim

Een van die min dinge wat ‘n mens op sy fiets doen sonder om te dink moet seker wees om jou remme te gebruik. Te danke aan slim remwerk het ek al uit ‘n paar noue ontkomings gekom. As ‘n mens jou remme slim gebruik dan is die kans dat jy uit ‘n moeilikke situasie kan kom sonder om te val of om ander mense in gevaar te stel baie goed. Wat gebeur anders as om jou remme te trek, of hoe moeilik kan dit nou wees om te kan rem hoor ek jou vra.

Dit is egter een van die goed wat ‘n mens nie eintlik oor dink nie, jy doen dit maar net instinktief. As ‘n mens die basiese goed reg doen dan kan dit jou ongelooflik baie help.
Ek gaan ‘n paar van die eenvoudige goedjies met julle deel wat julle dalk moontlik kan help as julle in ‘n moeilikke situasie kom.

Trek jou remme geleidelik. Deur jou remme geleidelik van sag na hard te trek verminder jy die kans dat jou agterwiel agter jou aan gaan sleep. Sou jou agterwiel agter jou aansleep gaan dit regtig niks help om jou enigsins viniger te laat stop nie, inteendeel jy kon net sowel nie probeer stop het nie.
Nie net gaan dit help dat jy geleidelik, maklik tot stilstand kom nie, maar ook dat jou remskoene van jou fiets ook langer gaan hou.

Noodstop. Die tweede belangrikste ding wat jy sal moet onthou is, dat as jy vinnig ‘n noodstop moet doen, dat jy al twee jou remme gelyk moet trek, en jou gewig sover moontlik agter toe verskuif. Dit moet egter alles gelyk en blitsvinnig gebeur. As ‘n mens vinnig jou fiets tot stilstand moet bring, dan is die eerste ding wat gebeur dat al jou gewig vorentoe gaan verskuif sodra jy hard rem, die gevolg is dat jou agterband gaan sleep en jou nie vinnig genoeg gaan laat stop nie. As jy jou gewig terug verskuif so ver moontlik sal jou balans op jou fiets baie goed versprei wees en jou fiets sal vinnig tot stilstand kom. Terwyl jy jou remme trek en jou gewig so ver moontlik na agter verskuif moet jy vinnig probeer kyk vir ‘n veilige uitkoms. Daar behoort gewoonlik ‘n uitkoms te wees om die onderwerp in jou pad te vermy, hetsy dit ‘n motor is of ‘n boomstomp oor jou paadjie. Sodra jou spoed redelik verminder is en jy van rigting kan verander om die voorwerp te vermy, is dit veilig om so te doen.

Papwiel in ‘n bondel. Een van die moeilikste dinge om te doen is om te stop as jy n papwiel gekry het, om nie eers te praat van om te probeer stop as jy ‘n papwiel gekry het terwyl jy in die middel van ‘n groot bondel ry nie. Wat jy definitief moet vermy is om te probeer van rigting te verander om na die kant van die pad te beweeg, dit is ‘n goeie resep om hard te val. Die beste ding om te doen as jy in so ‘n situasie is, is om kalm te bly, op te hou trap, jou fiets in ‘n reguit lyn te probeer hou, en te vrywiel tot jou fiets tot stilstand gekom het. Dit is ook die veiligste manier.

Ek hoop hierdie handige wenke help julle soveel soos dit my gehelp het om uit moeilike situasies te kom. –Alles Fiets-

Friday, September 5, 2008

Ry Gemaklik in 'n Bondel

Ek kan nog die heel eerste keer onthou wat ek in ‘n groot bondel gery het so 9 jaar terug. Vir ‘n jong 16 jarige wat nog nie baie lank fietsry nie, was dit baie senutergend gewees, maar tog so fantasties om te kan sien hoeveel vinniger ek kan ry saam in ‘n groep mense teenoor wanneer ek op my eie gery het. Ek het besef dit is noals skrikwekkend om in so ‘n groep te ry, maar het ook besef dat ek nie kan bekostig dat my vrese my oorkom en ek 'n halfuur na die res van die fietsryers by die einde aankom nie. As hulle dit kan doen kan ek dit ook doen. Ek het begin oplet wat die res van die fietsryers doen en sodoende my ry in ‘n bondel baie maklikker en veiliger gemaak vir die res van die fietsryers in die groep.

Probeer ontspan en so glad as moontlik trap. Probeer eers om op jou eie om die trap van jou fiets so glad as moontlik te laat gebeur. As jou kadensie van jou trap tegniek te hoog is gaan dit veroorsaak dat jou fiets met elke trap vorentoe gaan spring en gaan jy ook sukkel om gemaklik in ‘n reguit lyn te ry. As jou trap kadensie te lag is gaan jy sukkel om by te bly as die groep 'n klein bultjie kry, en gaan jy sukkel om hulle weer te vang. Die beste is om ‘n goeie middelweg te kry. Ek sou sê probeer om jou trap kadensie so om en by 90 revolisies per minuut (rpm) te hou. Dit gaan beteken dat jy gereeld jou ratte gaan moet verander soos wat die terrein verander, maar jy gaan makliker in die bondel kan bly en jou fiets gaan stabiel in ‘n reguit lyn ry. As jy hierdie tegniek volmaak het, gaan jy baie energie spaar in jou fietswedrenne. Probeer eers op jou eie om hierdie tegniek reg te kry voordat jy saam met ‘n bondel gaan ry.

Weet wat die res van die ryers van jou verwag. Bondels bestaan gewoonlik uit een of twee lyne fietsryers wat agter mekaar ry om die wind te breek vir die fietsryers agter hulle. As die wind ‘n bietjie waai en jy ry saam met jou oefen vriende, gaan ry agter hom. Jy behoort te kan voel van watter rigting die wind af waai. Beweeg nou stadig agter die persoon voor jou uit en en beweeg skuins agter hom in sodat hy tussen jou en die wind is. Jy sal voel dat dit baie makliker is om te trap (partykeer hoef jy nie eers te trap nie) as jy in daardie plek ry. Dit is die beste plek om te wees as die wind waai. As die persoon voor gevoel het dat hy nou genoeg gewerk het voor en die wind genoeg gebreek het vir die ander ryers in die groep sal hy aandui met sy arm dat jy kan kom oorvat by hom of hy sal net stadig in die windrigting in, uit die pad uit beweeg en terug beweeg na die agterkant van die groep dat hy bietjie sy bene kan rus. So roteer die bondel die heeltyd. Baie belangrik, veral as jy redelik nuut is in bondel ry, moenie die heeltyd voor ry en die wind breek vir die res van die ryers in die groep nie. Jy mag dalk dink dat dit oulik is en jy mag dalk sterk voel met ‘n groot glimlag op jou gesig, maar die ander meer ervare fietsryers in die groep is besig om jou te gebruik. As julle naby die einde van die wedren kom en die pas word gelig om mekaar te probeer uit oorlê om eerste oor die eindstreep te wees, gaan jy nie genoeg krag oorhê om saam met die res van die fietsryers te bly nie. Enigeiets tussen een en twee minute is meer as genoeg om voor te ry op ‘n slag.

Kyk vooruit. Dit is ongelooflik belangrik om vooruit te kyk maak nie saak waar jy in die bondel ry nie. Kyk voor die groep uit vir goed wat jou moontlik mag hinder voor in die pad, soos slaggate, ‘n stuk hout, honde ens. Waarsku die fietsryers wat agter jou ry van moontlikke onderwerpe wat in die pad lê wat hulle mag hinder, net soos die fietsryers voor jou vir jou behoort te waarsku. Moenie afkyk na jou ratte terwyl jy in die bondel ry nie, dit is die maklikste manier om die persoon voor jou se wiel te raak en te val.

Volg hierdie paar eenvoudige wenke en jy behoort sommer vinnig beter tye in wedrenne op te stel deur hierdie tegnieke te gebruik. – Alles Fiets –

Thursday, September 4, 2008

Gaan jou fiets na in 5 minute

Gebruik hierdie paar wenke om jou fiets na te gaan na elke keer wat jy gaan ry het en wees verseker dat jou ysterperd reg sal wees om te gaan ry more.

Wiele
Kyk of jou wiele reguit is. Dit doen jy deur jou fiets se wiele een vir een in die rondte te laat draai. Kyk of jou wiele ewe ver van jou remblokkies af is vir die hele rotasie van die wiele. As hy op enige stadium bietjie nader aan die remblokkies is en nie meer in die middel nie, dan is jou wiel bietjie skeef. Hy sal weer gebalanseer moet word. Jou plaaslikke fietswinkel behoort dit vir jou te kan doen.

Remme
Gaan jou remblokkies na en kyk of daar enige vuilgoed nog op die remblokkies vassit. As dit die geval is, maak hulle skoon met 'n ou lappie en sorg dat daar nog genoeg loopvlak oor is op jou blokkies. As jy nie meer die groewe kan sien in jou remblokkies nie, dan was dit al tyd gewees om hulle te vervang. 'n Goeie aanduiding is as jy na 'n nuwe remblokkie kyk. Jou ou remblokkies moet nooit minder as die helfde van die loopvlak oor hê as wat die nuwe blokkies het nie.

Buiteband
Na jy gaan ry het, gaan jou buiteband na om te kyk of daar nie enige stukkies glas, spyker of dorings vas sit nie. Kyk ook vir snytjies in jou buiteband, en veral op die dunner gedeelte op die kant van die buiteband. As daar enige stukkies glas of dorings ens. vas sit haal dit versigtig uit met 'n skerpbek tangetjie of "tweezers". Laaste, maak seker dat jou bande nog die regte druk het, jy wil nie more by jou fiets uitkom in jou fietsry uitrusting, net om te vind dat jou wiel pap is nie.

“Quick Release”
Maak seker dat jou wiel nie speling het in 'n sywaartse rigting nie. As daar speling is, kyk of jou “quick release” op die regte manier vas is. Dit sal verseker dat jy nie op jou volgende rit teen 'n styl afdraende agterkom dat jou wiel besig is om los te kom nie.

Jou regmaak pakkie
As jy enige iets gebruik het op jou rit vandag om jou fiets reg te maak soos bv. n binneband gebruik vir jou of die persoon wat saam met jou gery het om net weer by die huis te kom, maak seker dat jy 'n nuwe binneband in sy plek het om saam te ry more as jy weer gaan ry. Daar is niks erger as om 'n papwiel te kry langs die pad, en dan as jy jou spaar binneband uithaal kom jy agter dat hy 'n gat in het nie.

Skoene
Gaan die onderkant van jou fietsryskoene na en maak seker dat jou “cleats” nog mooi stewig vas is. Die skroefies wat jou “cleats” vashou is geneig om oor 'n tydperk los te raak. As hulle stewig vas is sal dit verhoed dat jou voet sommer net uitspring teryl jy nog ry en ook selfs keer dat jy nie sukkel om jou voet los te kry as jy stop aan die einde van jou rit nie.

Fietsraam
Na jou rit is dit 'n goeie idée om jou fiets se raam na te gaan vir enige krakies of verf wat begin afdop. Kyk veral op plekke waar die pype van die raam bymekaar kom. Gebruik 'n lappie en politoer (Mr Min werk goed) om jou fiets weer te laat blink en om maklikker te sien of jou raam nog in 'n goeie kondisie is.

As jy hierdie paar goedjies na gaan na elke rit, sal jou fietsry ervaring 'n baie gerieflikke een wees en sal minimaal skeef loop op jou rit. –Alles Fiets-

Wednesday, September 3, 2008

6 Eenvoudige Stappe om 'n Papwiel reg te maak

1. Haal die wiel uit
Die voorwiel is maklik: haak die rem uit, maak die “quick release” los en trek die wiel uit van die vurk af.
Die agterwiel is bietjie moeiliker: Sorg dat jy jou agterwiel se ratte in die kleinste ratjie het sodat dit bietjie makliker sal gaan om die wiel weer terug te sit. Maak die rem en die “quick release” los, trek jou “jockey” terug en gly die wiel uit. Sit jou fiets neer uit die pad uit, met die ketting wat na bo wys.

2. Kry die buiteband af
Daar bestaan 'n moontlikheid dat jy nie buiteband sommer net met jou hande gaan kan afhaal nie, indien jy nie die buiteband kan afkry nie, gaan jy heel moontlik “tyre levers” nodig kry. As dit die geval is, druk die plat kant van die “tyre lever” tussen jou wiel en die buiteband in so diep as moontlik sodat jy heeltemal onder die buiteband kan inkom. Druk nou die “tyre lever” af en haak die agterste gedeelte om jou wiel se speek. Druk nou nog 'n “tyre lever” onder die buiteband in so 10cm van die eerste een af en doen presies dieselfde. Dit behoord die buiteband los genoeg te maak sodat jy hom sal kan afkry van jou wiel af. Haal nou die stukkende binneband uit.

3. Gaan die buiteband na
Gebruik jou vingers en gly dit stadig, deeglik deur die binne kant van jou buiteband om te soek vir die oorsaak van jou papwiel. Wees versigtig, want as jy dit te vinnig doen kan jy heel moontlik jou vingers stukkend sny as dit iets skerps is soos 'n glasstuk of 'n skerp doring. Verwyder alles wat lyk of dit moontlik kon bygedra het tot 'n papwiel. As jy dit nie deeglik doen nie, is die kans dat jy nog 'n papwiel gaan kry net om die draai baie groot. As jy niks meer verder binne in jou buiteband sien nie en ook niks meer voel nie is jy reg om die nuwe binneband in te sit.

4. Sit die nuwe binneband in
Draai jou "valve" 'n klein bietjie oop en gebruik jou mond of klein pompie om 'n klein bietjie lug binne in die binneband te kry, dit verminder die kans dat jy hom gaan vasknyp, en nog 'n gat veroorsaak, as jy die buiteband terug sit. Druk eerste die "valve" deur die gaatjie in die wiel, dit sal dien as die ankerpunt vir jou om die res van die binneband maklik binne in die buiteband in te kry.

5. Kry die buiteband weer op jou wiel
As jy die binneband heeltemal binne in jou buiteband het is dit nou tyd om jou buiteband te begin terug sit. Druk die eerste deel van jou buiteband terug op jou wiel en hou hom in plek met jou een hand. Gebruik jou ander hand om die res van die buiteband op die wiel te kry sover moontlik. Gebruik jou “tyre levers” indien nodig om die heel laaste stukkie buiteband op jou wiel te kry. Wees egter baie versigtig dat jy nie stukkies van die buiteband wat dalk mag uitsteek stukkend knyp as jy die buiteband terug sit nie. As die hele buiteband op is en in plek, gaan hom stadig na en maak seker dat hy oral mooi op jou wiel is voordat jy hom begin op pomp.
Pomp jou wiel op. Jy kan gebruik maak van n CO2 bommetjie om jou wiel op te blaas. Jy kan slegs jou wiel op blaas met n CO2 bommetjie as jy die spesiale “fitting” het wat op jou wiel pas. Nadeel van die bommetjies is dat jy meeste van hulle slegs een keer kan gebruik so dit is perfek om jou wiel vinnig op te pomp as jy langs die pad staan, of in 'n wedren. Andersins kan jy 'n klein pompie gebruik om jou wiel op te pomp. Klein pompies verg nogals harde werk om jou wiel hard te kry maar hulle is wel goed genoeg en kan 'n hele paar wiele op pomp in hulle leeftyd.

6. Sit jou wiel terug op jou fiets
Voorwiel: Pas die vurk in die “quick release” in en maak hom vas (die handvatseltjie van die “quick release” moet aan die linkerkant van die fiets wees en moenie vergeet om die handvatseltjie terug te druk nie!). Maak jou remme weer vas.
Agterwiel: Hou die agterste gedeelte van jou fiets in die lug. Maak seker dat jou wiel in die regte rigting wys en sit jou wiel in posisie dat jou ratte tussen jou ketting se bo kant en die onderkant in gaan. Soos wat jy jou fiets laat sak dat die wiel in plek in gly probeer dat jou agterwiel se kleinste ratjie haak onder die boonste ketting, dan behoort hy maklik in plek in te gly.(dit gaan slegs werk as jy onthou het om in stap 1 jou agterwiel se ratte te verander na die kleinste ratjie toe). Sorg dat jou wiel in die middel van jou fiets se raam is voor dat jy jou agterwiel vasmaak(wat nogals werk is as jy van jou gewig op jou saal sit terwyl jy nog langs jou fiets staan, dan behoort jou wiel self die middel te kry). Maak die “quick release” en jou remme vas en dan is jy reg om weer te ry. –Alles Fiets-