Monday, October 20, 2008

Lange maak dit 5 uit 6

Malcolm Lange het Sondag vir die vyfde keer in ses wedrenne eerste oor die wedren gery toe hy die Amashova fietstoer tussen Pietermaritzburg en Durban gewen het.

Die breek wat die wedren gewen het, het gebeur met nog 'n volle 50km oor voor die einde. 'n Groepie van 12 ryers het weg gebreek op 'n 2km lange bult. Met die idee om weg te bly tot by die einde het die ryers die breek hard gedryf.

Met slegs sewe ryers oor teen die tyd wat hulle Botha's Hill gekry het, was dit 'n uitgemaakte saak dat die groepie gaan wegbly tot die einde. Met MTN en die House of Paint span wat elkeen twee ryers in die groepie gehad het, het hulle hard saam gewerk om die voorsprong te behou.

By die eindstreep was dit Malcolm Lange (MTN) wat sy eindpoging met perfekte tydsberekening afgerond het om eerste oor die wenstreep te ry in 'n tyd van 2:25:33 gevolg deur Arran Brown (House of Paint) tweede en die 19 jarige Reinhard Janse van Rensburg (Toyota/Supercycling) in derde plek.

In die vroue wedren het Cashandra Slingerland (MTN) gesorg vir 'n verrassing toe sy slegs 20 km in die wedren weggebreek het en op haar eie 'n tydtoets gery het tot in Durban om die wedren gemaklik te wen in 'n tyd van 2:53:14. Isabel Moolman (Cycle Lab Supercycling) wat in die tweede plek ingekom het, was 'n volle vier minute na Slingerland. Die onderste trappie van die podium was gevul deur Carla van der Merwe (Proline).

In die tandem afdeling het Andrew Mclean en Grame Cronje die tyd wat aan hulle gestel is van 2:20:00 net net geklop toe hulle die wedren voltooi het in 'n tyd van 2:17:56 wat verseker het dat hulle die boerpot van R100 000 wen vir al die instansies vir minderbevooregdes wat die geld nodig het wat deel het aan die wedren.

-Alles Fiets-

Sunday, October 19, 2008

Sterk vertoning deur Stander by Ashishova

'n Uitstekende vertoning deur Burry Stander, die nuut gekroonde onder 23 wereld beker kampioen gister by die 45 km Asishova bergfietswedren by Giba Gorge net buite Pietermaritzburg.

Burry Stander, wat verlede jaar die wedren gewen het, was goed gemerk in hierdie jaar se wedren. Burry Stander, Max Knox en Brandon Stewart het al vroeg in die wedren weg gebreek en beurte voor geneem om die pas hoog te hou sodat die ander ryers hulle nie kan inry nie.

Op 'n sterk klim sowat halfpad deur die wedren, kon Stewart nie meer by die pas byhou nie en dit was tussen Stander en Knox wat dit moes uitbaklei het vir eerste plek. Met egter slegs 7km oor om te gaan, het Stander weggeglip op 'n steil afdraende en weg gebly tot by die einde.

Stander het die wedren gewen in 'n blitsige 1:55:40 met Knox in tweede plek sowat 2 min later en Stewart in derde plek nog 3min later.

In die vroue wedren moes Samantha Oostehuizen baie hard gewerk het om die wedren te wen van die plaaslike Shawna Thunder. Na 'n harde stryd het Oostehuizen uiteindelik as wenner oor die wenstreep getrap in 'n tyd van 2:35:06, met Thunder in tweede plek slegs 3 min na Oostehuizen.

-Alles Fiets-

Friday, October 17, 2008

Wie gaan wegstap as wenner by Amashova?

Wie gaan wegstap as die algehele wenner by more se Amashova padfietswedren wat in Durban gehou word? Dit is die groot vraag wat op almal se lippe is.

In die vroue wedren is Anriette Schoeman (Proline) die voorstander om die wedren te wen. Sy het die Amashova al vier keer van tevore gewen waarvan die laaste keer verlede jaar was. Anriette het laas maand gewys in die Dome2Dome wedren oor haar uitstekende vorm waaroor sy tans beskik, toe sy onder die vroue veld uit gery het en die wedren gemaklik sonder 'n naelrit kon wen. Hierdie naweek gaan dit heel moontlik 'n ander storie wees aangesien Chrissie Viljoen (MTN), Cherise Taylor (MTN) en die top naelrit ryer Lynette Burger (Toyota/Cyclelab) almal honger is vir 'n wen.

In die mans afdeling voel die ses keer Amashova wenner, Malcolm Lange (MTN) dat hy 'n goeie kans staan om dit sewe oorwinnigs te maak y die Amashova. Lange is seker in die beste vorm van sy lewe, want in die laaste vyf weke het Lange vier keer eerste oor die wenstreep gejaag.

Alles gaan egter neerkom op span taktiek. Lange weet dat die wedren gaan eindig met 'n naelrit, soos in die vorige jare, maar sy span wil egter probeer om die bondel kleiner te maak sodat hulle dit beter kan beheer. Lange se grootste teenstanders is egter glad nie stadig nie. Sy grootste teenstanders kom in die vorm van Herman Fouche (Konica Minolta) wat die wedren in 2005 gewen het en Nolan Hoffman (Neotel) wat al twee keer moes tevrede wees met die tweede plek. Die House of paint span van Jamie Ball-hulle kan egter nie afgeskryf word nie, aangesien hulle die tuisgrond voordeel geniet.

Andrew Mclean en Robbert Hunter wat gaan probeer om die wedren van 106km op 'n tandem fiets te voltooi onder 2h20min, se planne was amper in die wiele gery toe Hunter skielik moes onttrek met 'n skouer besering. Hunter en Mclean sal R100 000 losry vir liefdadighei as hulle die roete kan voltooi in 'n vinniger tyd as die 2h20min wat aan hulle gestel is. Mclean gaan egter nog steeds probeer om dit te doen, en Hunter se plaasvervanger kom in die vorm van Graham Cronje.

Die wedren maak by die Sun Coast Casino klaar en die eerste ryers behoort net so na agt klaar te maak.

-Alles Fiets-