Wednesday, September 3, 2008

6 Eenvoudige Stappe om 'n Papwiel reg te maak

1. Haal die wiel uit
Die voorwiel is maklik: haak die rem uit, maak die “quick release” los en trek die wiel uit van die vurk af.
Die agterwiel is bietjie moeiliker: Sorg dat jy jou agterwiel se ratte in die kleinste ratjie het sodat dit bietjie makliker sal gaan om die wiel weer terug te sit. Maak die rem en die “quick release” los, trek jou “jockey” terug en gly die wiel uit. Sit jou fiets neer uit die pad uit, met die ketting wat na bo wys.

2. Kry die buiteband af
Daar bestaan 'n moontlikheid dat jy nie buiteband sommer net met jou hande gaan kan afhaal nie, indien jy nie die buiteband kan afkry nie, gaan jy heel moontlik “tyre levers” nodig kry. As dit die geval is, druk die plat kant van die “tyre lever” tussen jou wiel en die buiteband in so diep as moontlik sodat jy heeltemal onder die buiteband kan inkom. Druk nou die “tyre lever” af en haak die agterste gedeelte om jou wiel se speek. Druk nou nog 'n “tyre lever” onder die buiteband in so 10cm van die eerste een af en doen presies dieselfde. Dit behoord die buiteband los genoeg te maak sodat jy hom sal kan afkry van jou wiel af. Haal nou die stukkende binneband uit.

3. Gaan die buiteband na
Gebruik jou vingers en gly dit stadig, deeglik deur die binne kant van jou buiteband om te soek vir die oorsaak van jou papwiel. Wees versigtig, want as jy dit te vinnig doen kan jy heel moontlik jou vingers stukkend sny as dit iets skerps is soos 'n glasstuk of 'n skerp doring. Verwyder alles wat lyk of dit moontlik kon bygedra het tot 'n papwiel. As jy dit nie deeglik doen nie, is die kans dat jy nog 'n papwiel gaan kry net om die draai baie groot. As jy niks meer verder binne in jou buiteband sien nie en ook niks meer voel nie is jy reg om die nuwe binneband in te sit.

4. Sit die nuwe binneband in
Draai jou "valve" 'n klein bietjie oop en gebruik jou mond of klein pompie om 'n klein bietjie lug binne in die binneband te kry, dit verminder die kans dat jy hom gaan vasknyp, en nog 'n gat veroorsaak, as jy die buiteband terug sit. Druk eerste die "valve" deur die gaatjie in die wiel, dit sal dien as die ankerpunt vir jou om die res van die binneband maklik binne in die buiteband in te kry.

5. Kry die buiteband weer op jou wiel
As jy die binneband heeltemal binne in jou buiteband het is dit nou tyd om jou buiteband te begin terug sit. Druk die eerste deel van jou buiteband terug op jou wiel en hou hom in plek met jou een hand. Gebruik jou ander hand om die res van die buiteband op die wiel te kry sover moontlik. Gebruik jou “tyre levers” indien nodig om die heel laaste stukkie buiteband op jou wiel te kry. Wees egter baie versigtig dat jy nie stukkies van die buiteband wat dalk mag uitsteek stukkend knyp as jy die buiteband terug sit nie. As die hele buiteband op is en in plek, gaan hom stadig na en maak seker dat hy oral mooi op jou wiel is voordat jy hom begin op pomp.
Pomp jou wiel op. Jy kan gebruik maak van n CO2 bommetjie om jou wiel op te blaas. Jy kan slegs jou wiel op blaas met n CO2 bommetjie as jy die spesiale “fitting” het wat op jou wiel pas. Nadeel van die bommetjies is dat jy meeste van hulle slegs een keer kan gebruik so dit is perfek om jou wiel vinnig op te pomp as jy langs die pad staan, of in 'n wedren. Andersins kan jy 'n klein pompie gebruik om jou wiel op te pomp. Klein pompies verg nogals harde werk om jou wiel hard te kry maar hulle is wel goed genoeg en kan 'n hele paar wiele op pomp in hulle leeftyd.

6. Sit jou wiel terug op jou fiets
Voorwiel: Pas die vurk in die “quick release” in en maak hom vas (die handvatseltjie van die “quick release” moet aan die linkerkant van die fiets wees en moenie vergeet om die handvatseltjie terug te druk nie!). Maak jou remme weer vas.
Agterwiel: Hou die agterste gedeelte van jou fiets in die lug. Maak seker dat jou wiel in die regte rigting wys en sit jou wiel in posisie dat jou ratte tussen jou ketting se bo kant en die onderkant in gaan. Soos wat jy jou fiets laat sak dat die wiel in plek in gly probeer dat jou agterwiel se kleinste ratjie haak onder die boonste ketting, dan behoort hy maklik in plek in te gly.(dit gaan slegs werk as jy onthou het om in stap 1 jou agterwiel se ratte te verander na die kleinste ratjie toe). Sorg dat jou wiel in die middel van jou fiets se raam is voor dat jy jou agterwiel vasmaak(wat nogals werk is as jy van jou gewig op jou saal sit terwyl jy nog langs jou fiets staan, dan behoort jou wiel self die middel te kry). Maak die “quick release” en jou remme vas en dan is jy reg om weer te ry. –Alles Fiets-