Wednesday, September 10, 2008

Max Knox en Yolandi du Toit is bobaas by Dirty Harry op 7 September 2008

Max Knox en Yolandi du Toit het albei oortuigende oorwinings in laas naweek se Mazda Mtn Dirty Harry bergfietswedren in Harrysmith behaal.

Knox het van die begin af baie hard uitgegaan teen die eerste bult in die wedren en het die veld dadelik lank uitgerek. Knox (DCM Chrome) en sy spanmaat Brandon Stewart, wat duidelik goeie bene oorgehou het na die vorige naweek se Mugg & Bean 24 uur wedren, het die ander fietsryers verras en op hulle eie uit gegaan. Niemand kon saam met hierdie twee fietsryers bly nie, en die DCM Chrome span het goed gelyk vir 'n versekerde eerste en tweede plek op die podium. Ongelukkig was die noodlot nie aan hulle kant nie en 'n papwiel het Stewart getref slegs 10km voor die einde van die resies.

Knox was gedwing om op sy eie aan te gaan terwyl Stewart sy wiel reg moes maak. Ben Melt Swannepoel (MTN Energade) het vir Stewart gevang en verbygegaan voor die einde. Knox het sy voorsprong behou tot by die einde en het die 76km roete in 2:47:46 kaf gedraf. Swannepoel het 3 minute later in die tweede plek ingekom en Stewart het vasgebyt vir 'n welverdiende derde plek.

In die vroue afdeling het Yolandi du Toit (Garmin DCM) baie dieselfde taktiek gebruik as wat Knox hulle gevolg het in die mans se wedren. Du Toit het die eerste lang bult baie hard gery en vir so lank as moontlik by die mans probeer bly. Dit het goed vir haar gewerk, want nadat sy bo oor die eerste bult was het sy nooit weer 'n ander vrou gesien nie. Du Toit het basies 'n tydtoets gery van die begin tot die einde.

Du Toit het die resies gewen in 'n tyd van 3:31:56 gevolg deur haar spanmaat Samantha Oostehuizen in 'n tyd van 3:36:30. In derde plek het Carla Rowley (MTN Energade) in 'n tyd van 3:42:23 die wedren voltooi.

Hierdie wedren gaan volgende jaar dien as die Suid Afrikaanse Maraton Kampioenskappe en gaan moontlik langer gemaak moet word aangesien die warm droƫ toestande gunstig was om die wedloop in baie vinnige tye te voltooi. - Alles Fiets -

No comments: