Thursday, September 11, 2008

Gereedskap wat jy mag benodig by ‘n wedren

Een van die goue reëls in fietsry is dat jy nie die aand voor ‘n wedren aan jou fiets moet werk nie. Dit veroorsaak net onnodige stres as daar iets fout is en jy sukkel om dit reg te maak. Probeer eerder dat jou fiets in ‘n goeie werkende toestand is ‘n week voor jou wedren. Wat ek ook al agter gekom het, is dat as jy nogals ver moet ry vir ‘n wedren, is die kanse goed dat daar iets met jou fiets kan gebeur en skeef loop. As jy jou fiets aflaai by die wedren en vind dat alles nie na wense is op jou ysterperd nie, moet jy sorg dat jy die regte gereedskap byderhand het om die nodige reperasies te maak. As jy plek het in jou voertuig, probeer die meeste van die volgende inpak. Dit mag dalk net die verskil maak of jy jou wedren gaan geniet en of jy hom eerder sou wou vergeet.

Vloer pomp.
Sorg dat jy altyd jou vloer pomp inpak na ‘n wedren toe. Maak nie saak of dit ‘n bergfietswedren, ‘n padfietswedren of sommer ‘n klein pretrit by jou kerk is nie. Al dink jy dat dit nie werklik nodig gaan wees om jou wiel op te pomp voor die wedren nie, omdat jou bande hard genoeg is, kan jy heel moontlik ‘n papwiel kry terwyl jy opwarm voor die tyd en dan wil jy nie sukkel met ‘n klein fietspompie om jou wiel op gepomp te kry voor die wedren begin nie.

Skoon maak middels.
Dit is ‘n baie goeie idee om die regte skoon maak middels in te pak en byderhand te hê. Jy wil nie die volgende oggend by die begin punt van die wedren aankom met handvatsels wat pikswart is in plaas van wit nie. Sorg dat jy iets inpak wat maklik en vinnig olie kan verwyder. ‘n Paar handskoene kan ook goed werk om te sorg dat jy nie jou fiets vuil vat nie. Geen gereedskapskassie mag sonder ‘n paar skoon lappe wees nie. Hulle is handig vir meer as een taak.

Alles regmaak sakkie.
In ‘n alles regmaak sakkie sit ‘n mens gewoonlik enige iets wat jy nie normaalweg sal aan dink om te gebruik nie, maar wat wel jou fiets kan regmaak sodat jy die wedren kan begin. In jou sakkie sal jy bv. gereedskap sit wat jy nie met jou ander gereedskap sal kan regmaak nie. Jy sal handige gereedskap daar insit soos “cable ties”, kleefband en ‘n goeie sterk gom. Met hierdie paar goedjies behoort jy meeste probleme te kan regmaak om ‘n wedren te voltooi.

Fiets staander
In ‘n kort wedren is dit nie noodwendig nodig om ‘n fiets staander saam te vat nie, maar in langer wedrenne en wedrenne wat 24 ure lank is, is dit noodsaaklik. In langer wedrenne wil jy nie sukkel om jou fiets reg te maak tussen skofte deur jou rug in ongemak te plaas nie. Sorg dat jy ‘n stewige staander kry wat nie jou fiets laat rondbeweeg terwyl jy aan hom wil werk nie.

Basiese gereedskap
Maak seker dat jou gereedskap kissie goeie gereedskap bevat. Jy wil nie sukkel met gereedskap wat nie bedoel is vir die werk wat jy hom voor gebruik nie. Probeer al die probleme wat moontlik mag gebeur uitskakel deur die regte gereedskap by jou te hê soos bv. ‘n kettingbreker, goeie stel allansleutels, “tyre levers”, spaar binneband, spaar buiteband vir langer wedrenne, ketting olie en ekstra speke. Binne ‘n wedren moet jy seker maak dat jy net die nodigste gereedskap saam met jou vat om by die einde te kan kom as daar iets verkeerd loop. Moenie te veel gereedskap saam met jou vat nie, want dan gaan jy jou dood dra aan alles en moontlik gaan daar nie eers iets met jou fiets gebeur as hy in ‘n goeie kondisie is nie.

Volg hierdie paar stappe en jy behoort altyd gereed te wees aan die begin van ‘n wedren. –Alles Fiets-

No comments: