Friday, September 12, 2008

Onderhou jou Pedale

As jy op ‘n pedaal afgekom het waarvan jy hou en wat vir jou werk, is daar geen rede om van pedale te verander nie.  Meeste pedale vandag is baie spesifiek in wat hulle vir jou kan bide en meeste mense hou by die pedaal wat hy al vir jare gebruik en vertrou.  By die meeste fietswinkels vandag as jy ‘n nuwe fiets gaan koop, kry jy nie eers pedale saam met jou fiets nie.  Dit is omdat daar gevind is dat meeste mense weet presies watter pedale hulle op hulle fiets wil hê of selfs net die ou pedale oorsit van die ou fiets na die nuwe fiets toe.  Deesdae hou pedale ongelooflik lank as jy mooi na hulle kyk en hulle gereeld skoonmaak.

 

Sorg dat jou fiets se pedale op ‘n gereelde basis skoon gemaak word.  Vuil trappe en vuil “cleats” veroorsaak dat jou trappe vinniger uitgewerk raak as wat nodig is.  Gebruik ‘n skoon lappie so een keer ‘n week om jou pedale goed skoon te vee en probeer om van die meeste gemors wat aan jou pedale vassit, ontslae te raak.  As jy nie jou pedale skoon hou nie, gaan daar met tyd gemors hul pad binne in jou pedale in werk en begin om jou “bearings” op te eet.  Aan die anderkant wil jy ook nie jou pedale super skoon hou nie, want jy gaan vuilgoed in jou pedale in forseer. 

 

Gaan jou “cleats” gereeld na.  Sonder dat jy dit agter kom loop ‘n mens nogals baie op jou “cleats” en dus hou hulle nie heeltemal so lank soos wat verwag word nie (veral as hulle van plastiek gemaak is).  Dink net bietjie, elke keer as jy by ‘n verkeerslig stop en jou voet uithaal en hom op die teer neersit, staan jy op jou “cleats” en nie op die sool van jou skoen nie.  Met bergfiets as jy moet stoot teen ‘n klipperige randjie uit, loop jy meer en deels op los klippe wat daartoe bydrae dat jy jou “cleats” se leeftyd verkort.  Gaan jou “cleats” gereeld na om te sien of hulle nog in ‘n goeie kondisie is.  Sodra jy jou trappe moet stywer stel om te keer dat jou voet nie te maklik uitkom nie, is dit tyd om jou “cleats” te vervang. 

 

‘n Goeie idée is dalk elke keer as jy jou ketting skoon maak en olie gee (wat toevallig tussen elke rit behoort te wees)  dat jy jou pedale vinnig in die ronte draai om te sien of hulle nog lekker maklik kan draai.  Terwyl jy jou fiets vashou, beweeg jou trappe sywaarts en kyk of daar beweging of speling is.  As daar wel is, is dit tyd dat jy jou pedale moet vat vir ‘n diens of dalk is dit tyd om op te gradeer na daardie nuwe stel pedale wat jy al vir drie maande in die oog het.              –Alles Fiets-

No comments: