Friday, September 5, 2008

Ry Gemaklik in 'n Bondel

Ek kan nog die heel eerste keer onthou wat ek in ‘n groot bondel gery het so 9 jaar terug. Vir ‘n jong 16 jarige wat nog nie baie lank fietsry nie, was dit baie senutergend gewees, maar tog so fantasties om te kan sien hoeveel vinniger ek kan ry saam in ‘n groep mense teenoor wanneer ek op my eie gery het. Ek het besef dit is noals skrikwekkend om in so ‘n groep te ry, maar het ook besef dat ek nie kan bekostig dat my vrese my oorkom en ek 'n halfuur na die res van die fietsryers by die einde aankom nie. As hulle dit kan doen kan ek dit ook doen. Ek het begin oplet wat die res van die fietsryers doen en sodoende my ry in ‘n bondel baie maklikker en veiliger gemaak vir die res van die fietsryers in die groep.

Probeer ontspan en so glad as moontlik trap. Probeer eers om op jou eie om die trap van jou fiets so glad as moontlik te laat gebeur. As jou kadensie van jou trap tegniek te hoog is gaan dit veroorsaak dat jou fiets met elke trap vorentoe gaan spring en gaan jy ook sukkel om gemaklik in ‘n reguit lyn te ry. As jou trap kadensie te lag is gaan jy sukkel om by te bly as die groep 'n klein bultjie kry, en gaan jy sukkel om hulle weer te vang. Die beste is om ‘n goeie middelweg te kry. Ek sou sê probeer om jou trap kadensie so om en by 90 revolisies per minuut (rpm) te hou. Dit gaan beteken dat jy gereeld jou ratte gaan moet verander soos wat die terrein verander, maar jy gaan makliker in die bondel kan bly en jou fiets gaan stabiel in ‘n reguit lyn ry. As jy hierdie tegniek volmaak het, gaan jy baie energie spaar in jou fietswedrenne. Probeer eers op jou eie om hierdie tegniek reg te kry voordat jy saam met ‘n bondel gaan ry.

Weet wat die res van die ryers van jou verwag. Bondels bestaan gewoonlik uit een of twee lyne fietsryers wat agter mekaar ry om die wind te breek vir die fietsryers agter hulle. As die wind ‘n bietjie waai en jy ry saam met jou oefen vriende, gaan ry agter hom. Jy behoort te kan voel van watter rigting die wind af waai. Beweeg nou stadig agter die persoon voor jou uit en en beweeg skuins agter hom in sodat hy tussen jou en die wind is. Jy sal voel dat dit baie makliker is om te trap (partykeer hoef jy nie eers te trap nie) as jy in daardie plek ry. Dit is die beste plek om te wees as die wind waai. As die persoon voor gevoel het dat hy nou genoeg gewerk het voor en die wind genoeg gebreek het vir die ander ryers in die groep sal hy aandui met sy arm dat jy kan kom oorvat by hom of hy sal net stadig in die windrigting in, uit die pad uit beweeg en terug beweeg na die agterkant van die groep dat hy bietjie sy bene kan rus. So roteer die bondel die heeltyd. Baie belangrik, veral as jy redelik nuut is in bondel ry, moenie die heeltyd voor ry en die wind breek vir die res van die ryers in die groep nie. Jy mag dalk dink dat dit oulik is en jy mag dalk sterk voel met ‘n groot glimlag op jou gesig, maar die ander meer ervare fietsryers in die groep is besig om jou te gebruik. As julle naby die einde van die wedren kom en die pas word gelig om mekaar te probeer uit oorlê om eerste oor die eindstreep te wees, gaan jy nie genoeg krag oorhê om saam met die res van die fietsryers te bly nie. Enigeiets tussen een en twee minute is meer as genoeg om voor te ry op ‘n slag.

Kyk vooruit. Dit is ongelooflik belangrik om vooruit te kyk maak nie saak waar jy in die bondel ry nie. Kyk voor die groep uit vir goed wat jou moontlik mag hinder voor in die pad, soos slaggate, ‘n stuk hout, honde ens. Waarsku die fietsryers wat agter jou ry van moontlikke onderwerpe wat in die pad lê wat hulle mag hinder, net soos die fietsryers voor jou vir jou behoort te waarsku. Moenie afkyk na jou ratte terwyl jy in die bondel ry nie, dit is die maklikste manier om die persoon voor jou se wiel te raak en te val.

Volg hierdie paar eenvoudige wenke en jy behoort sommer vinnig beter tye in wedrenne op te stel deur hierdie tegnieke te gebruik. – Alles Fiets –

No comments: