Monday, September 8, 2008

Gebruik jou Remme Slim

Een van die min dinge wat ‘n mens op sy fiets doen sonder om te dink moet seker wees om jou remme te gebruik. Te danke aan slim remwerk het ek al uit ‘n paar noue ontkomings gekom. As ‘n mens jou remme slim gebruik dan is die kans dat jy uit ‘n moeilikke situasie kan kom sonder om te val of om ander mense in gevaar te stel baie goed. Wat gebeur anders as om jou remme te trek, of hoe moeilik kan dit nou wees om te kan rem hoor ek jou vra.

Dit is egter een van die goed wat ‘n mens nie eintlik oor dink nie, jy doen dit maar net instinktief. As ‘n mens die basiese goed reg doen dan kan dit jou ongelooflik baie help.
Ek gaan ‘n paar van die eenvoudige goedjies met julle deel wat julle dalk moontlik kan help as julle in ‘n moeilikke situasie kom.

Trek jou remme geleidelik. Deur jou remme geleidelik van sag na hard te trek verminder jy die kans dat jou agterwiel agter jou aan gaan sleep. Sou jou agterwiel agter jou aansleep gaan dit regtig niks help om jou enigsins viniger te laat stop nie, inteendeel jy kon net sowel nie probeer stop het nie.
Nie net gaan dit help dat jy geleidelik, maklik tot stilstand kom nie, maar ook dat jou remskoene van jou fiets ook langer gaan hou.

Noodstop. Die tweede belangrikste ding wat jy sal moet onthou is, dat as jy vinnig ‘n noodstop moet doen, dat jy al twee jou remme gelyk moet trek, en jou gewig sover moontlik agter toe verskuif. Dit moet egter alles gelyk en blitsvinnig gebeur. As ‘n mens vinnig jou fiets tot stilstand moet bring, dan is die eerste ding wat gebeur dat al jou gewig vorentoe gaan verskuif sodra jy hard rem, die gevolg is dat jou agterband gaan sleep en jou nie vinnig genoeg gaan laat stop nie. As jy jou gewig terug verskuif so ver moontlik sal jou balans op jou fiets baie goed versprei wees en jou fiets sal vinnig tot stilstand kom. Terwyl jy jou remme trek en jou gewig so ver moontlik na agter verskuif moet jy vinnig probeer kyk vir ‘n veilige uitkoms. Daar behoort gewoonlik ‘n uitkoms te wees om die onderwerp in jou pad te vermy, hetsy dit ‘n motor is of ‘n boomstomp oor jou paadjie. Sodra jou spoed redelik verminder is en jy van rigting kan verander om die voorwerp te vermy, is dit veilig om so te doen.

Papwiel in ‘n bondel. Een van die moeilikste dinge om te doen is om te stop as jy n papwiel gekry het, om nie eers te praat van om te probeer stop as jy ‘n papwiel gekry het terwyl jy in die middel van ‘n groot bondel ry nie. Wat jy definitief moet vermy is om te probeer van rigting te verander om na die kant van die pad te beweeg, dit is ‘n goeie resep om hard te val. Die beste ding om te doen as jy in so ‘n situasie is, is om kalm te bly, op te hou trap, jou fiets in ‘n reguit lyn te probeer hou, en te vrywiel tot jou fiets tot stilstand gekom het. Dit is ook die veiligste manier.

Ek hoop hierdie handige wenke help julle soveel soos dit my gehelp het om uit moeilike situasies te kom. –Alles Fiets-

No comments: